Die Museum Café is in Junie 2006 begin, amper 10 jaar na die deure van die Museum amptelik geopen is. Die idee van 'n museum het reeds dekades gelede ontstaan, terwyl die versameling antieke gedenkwaardighede aangegroei het op die plaas van Oom Daantjie le Roux. Hy was gebore versamelaar en het reeds as kind begin om spesiale items te bewaar. Dit het ook tot gevolg gehad dat mense wat hom geken het en van hom gehoor het, items vir hom gebring het om te bewaar en te geniet. Dit was sy passie! Met die verkoop van sy plaas het hy besluit om sy passie met die wêreld te deel en het hy die Museum dorp toe geskuif. Sy dogter, Rozitha, deel hierdie passie vir bewaring met hom en het die bestuur van die museum by hom oorgeneem, na sy afsterwe. Vir haar was dit baie belangrik dat so veel mense moontlik hierdie "treasure" kan geniet en het sy besluit om die museum 'n kuierplek te maak vir dié mense wat 'n rustige asempie wil skep terwyl hulle 'n koppie koffie en 'n tuisgemaakte stukkie koek geniet. Wat verder spesiaal is, is dat elke gas die geleentheid het om haar/sy eie antieke koppie en piering te kies waaruit sy/hy koffie of tee wil geniet. Elke item is sorgvuldig aangekoop en versamel, elkeen met sy eie storie. Somiges datteer uit die tyd na die eerste wêreldoorlog en ander uit die kroningstyd van Koningin Elizabeth. Dit is vir hierdie familie belangrik dat Bonievale raakgesien en gewaardeer word. Dit is 'n baie spesiale omgewing, met baie spesiale mense!!!!